Onteiening sonder vergoeding?

Artikel van EWN

Minister Thoko Didiza het Dinsdag die departement se begroting ter tafel gelê en een vir die departement van visserye en bosbou, wat ook onder haar leiding staan.

KAAPSTAD – Grondonteiening sonder onteiening sal gebeur of diegene wat daarteen gekant is, daarvan hou of nie.

Dit was die woord van Thoko Didiza, minister van landbou en grondhervorming, en haar adjunk Mcebisi Skwatsha.

Didiza het Dinsdag die departement se begroting ter tafel gelê en een vir die departement van visserye en bosbou, wat ook onder haar leiding staan.

Skwatsha het gesê die lug sal nie inval wanneer wetgewing om grond sonder vergoeding te onteien, uiteindelik aanvaar is nie.

“Om grond vroeër as later sonder vergoeding te onteien, sal ’n werklikheid wees. Dit alles sal op 'n ordelike en grondwetlike wyse gebeur,” het hy gesê.

Skwatsha se kommentaar het gevolg op dié van Didiza wat gesê het grondonteiening is onvermydelik.

“Vir my is dit, en dit moet wees, 'n nuwe gesprek onder Suid-Afrikaners. Ons hoef nie die onvermydelike te vrees nie, maar ons kan daardie toekoms van ’n inklusiewe Suid-Afrika vorm.”

Didiza het gesê dit sal uiteindelik van die nasionale wetgewer afhang en hoe hy die wetgewing saamstel en bewoord om grondonteiening 'n werklikheid te maak.