KYK | ANC sal Reserwebank 'verantwoordelik' nasionaliseer, sê Ace Magashule

Die ANC-regering sal deurdruk met die nasionalisering van die Reserwebank – maar “op ’n verantwoordelike wyse”.

Dit is volgens Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat Dinsdag joernaliste ingelig het oor die uitslag van die regerende party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering die naweek.

Magashule het gesê dit strook met resolusies van die ANC Nasrec-konferensie in Desember 2017.

“Weereens oor die SA Reserwebank het die NUK die 54ste konferensie-resolusie herbevestig om die soewereiniteit van hierdie nasionale instelling aan die mense van SA as geheel terug te gee.

“Die NUK het klem gelê op die beleidsposisies van die ANC oor die mandaat van die SA Reserwebank en sy voorneme soos uiteengesit in die grondwet van die republiek, welke mandaat uitgeoefen sal word met gereelde konsultasie met die regering.

"Ons standpunt oor die nasionalisering van die Reserwebank het nie verander nie, so ons het gesê ons gaan ons resolusies van Nasrec implementeer en terwyl ons dit doen, moet besluit wat geïmplementeer moet word op 'n verantwoordelike manier geïmplementeer word," het Magashule gesê.

Hy het gesê dit is uiters belangrik vir die ANC-regering om dit op 'n verantwoordelike manier te doen aangesien dit die regerende party is.

Sy adjunk, Jessie Duarte, het bygevoeg: “Dit is ons begeerte dat die Reserwebank in die hande van die mense van SA moet wees en terselfdertyd moet ons aanvaar dat die mandaat van die Reserwebank, vanweë sy onafhanklikheid, verander nie, want dit kan nie verander op grond van wie die aandeelhouer is nie.

Artikel by ZINGISA MVUMVU en Times Live