
Dr Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het bevestig dat R8 956 713.41 deur sy departement aan huurvlugte en/of lugrederye bestee is om ongedokumenteerde migrante vir die tydperk 1 April tot 31 Augustus vanjaar te deporteer.
Die minister het die onthullings gemaak in 'n parlementêre antwoord op 'n vraag wat Joseph McGluwa, DA-LP, gevra het.
McGluwa het Motsoaledi gevra oor die besonderhede van die huurvlugte en lugdienste asook die totale bedrag wat betaal is ten opsigte van die deportasies in sowel die 2018/19-boekjaar as sedert begin April vanjaar.
Vir die 2018 tot 2019 finansiële jaar is R33 070 629.90 bestee aan vlugte vir die deportasie van ongedokumenteerde migrante.
Op 3 Oktober het president Cyril Ramaphosa die Nigeriese president Muhammadu Buhari vir 'n amptelike staatsbesoek ontvang, wat gevolg het op 'n aantal gewelddadige aanvalle op buitelandse burgers in dele van die land verlede maand.
Minstens 12 mense is dood en honderde Nigeriërs is gerepatrieer.
In 'n nuusbrief wat Maandagoggend gepubliseer is, het Ramaphosa gesê: “Die onlangse openbare geweld wat buitelandse burgers teiken, het ons pogings uitgedaag om sterker bande met ander Afrika-lande te bou. Aangevuur deur verkeerde inligting wat op sosiale media versprei is, het hierdie aanvalle baie woede in verskillende dele van die vasteland ontlok, wat gelei het tot dreigemente teen Suid-Afrikaanse besighede en diplomatieke missies.”
Die ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule, wat namens die party gepraat het, het ten tyde van die voorvalle van openbare geweld gesê dat hoewel migrasie 'n wêreldwye verskynsel is, daar opgetree moet word teen ongedokumenteerde buitelanders en diegene wat misdaad in Suid-Afrika gepleeg het, gedeporteer moet word, het News24 berig.
“Ons moet ongedokumenteerde buitelanders hanteer. Hulle moet gedokumenteer word en diegene wat aanhou om misdaad te doen, dinge wat nie bedoel is om gedoen te word in 'n land waaraan hulle nie behoort nie, moet eintlik hanteer word,” het Magashule bygevoeg.
Adrian Roos, DA-LP, het Motsoaledi gevra of hy met die uitvoerende burgemeesters van metropolitaanse munisipaliteite sal skakel om klopjagte uit te voer om onwettige immigrasie te bekamp.
Hierop het die minister geantwoord dat hy “... met munisipale strukture oor migrasie-aangeleenthede geskakel het en dit op 'n deurlopende basis sal doen”.
“Gesamentlike en spesiale operasies om onwettige migrasie te bekamp, word deur wetstoepassingsagentskappe op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak deur middel van inter-regeringsveiligheidstrukture beplan en uitgevoer. Alle metro-munisipaliteite is verteenwoordig in plaaslike veiligheids-, provinsiale en nasionale strukture soos die provinsiale gesamentlike operasionele strukture en die nasionale struktuur,” het Motsoaledi bygevoeg.
Artikel deur Nuus 24
