
Stadig maar seker is die proses om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, aan die gang in die Parlement. Dit is waar die proses tans staan.
Is dit te laat om beswaar te maak teen die wysiging van Artikel 25?
Vir alle praktiese doeleindes, ja.
Die vraag of artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word, is verlede jaar beantwoord toe albei Huise van die Parlement 'n resolusie aanvaar het wat bepaal dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding toe te laat.
Dit nadat die Gesamentlike Grondwetlike Hersieningskomitee 'n aanbeveling daartoe gemaak het nadat hulle deur die land gegaan het en 'n groot aantal voorleggings van die publiek oor die aangeleentheid hanteer het.
Waarmee die Parlement nou besig is, is die opstel van 'n wysiging aan die Grondwet. Dit is die taak van die komitee met die lompe titel van die Ad Hoc-komitee om wetgewing wat artikel 25 van die Grondwet wysig te inisieer en in te stel, onder voorsitterskap van die ANC-LP Mathole Motshekga.
In teorie kan 'n mosie na die Nasionale Vergadering gebring word om die ad hoc-komitee se mandaat te verander of die vorige mosie te herroep, maar dit lyk onwaarskynlik.
So onteiening sonder vergoeding is 'n uitgemaakte saak?
Amper.
Die grootste struikelblok vir die grondwetwysiging is dat dit met 'n tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering aanvaar moet word.
Dit vereis 267 stemme. Die partye wat in die openbaar verklaar het dat hulle 'n wysiging teenstaan – die DA, IVP, VF Plus, ACDP en Cope – het 114 setels tussen hulle. Daarom sal die ANC die 44 stemme van die EFF nodig hê om ook vir ’n wysiging te stem om die twee-derdes-drempel te slaag.
Nou steun die EFF onteiening sonder vergoeding, maar hul beleid verskil van dié van die ANC deurdat die EFF wil hê die staat moet alle grond besit.
Dus, in teorie, is daar 'n moontlikheid dat die EFF kan besluit om nie die wysiging aan die Grondwet te ondersteun nie.
Beteken dit dat nasionalisering 'n moontlikheid is?
Dit is onwaarskynlik. Die ANC het by verskeie geleenthede dit duidelik gemaak dat hulle nie nasionalisering steun nie.
Nasionalisering sal moontlik ook 'n ander wysiging aan die Grondwet behels as waarmee die komitee tans besig is.
Verder het die presidensiële paneel van kundiges oor grondhervorming en landbou gesê daar is geen voorsiening vir die nasionalisering van grond in die huidige wet en Grondwet nie.
“Nasionalisering is nie op die kaarte in die huidige grondwetlike bedeling nie,” het Bulelwa Mabasa, een van die paneel se lede gesê toe sy verslag in Julie vrygestel is.
Hoe sal die wysiging lyk?
Die parlement se regsdienste het Woensdag twee opsies aangebied wat die ad hoc-komitee moet oorweeg. Beide behels die verandering van die bewoording van Artikel 25 om onteiening sonder vergoeding toe te laat, en maak voorsiening vir 'n wet van algemene toepassing om dit moontlik te maak.
Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, het ook ’n wysiging voorgelê, wat soortgelyk was, maar ook ’n klousule ingesluit het wat grond effektief sou nasionaliseer.
Wat gebeur volgende?
Die ad hoc-komitee sal oor hierdie opsies beraadslaag en teen einde November met 'n konsepwysigingswetsontwerp vorendag kom. Hierdie wetsontwerp sal dan oop wees vir 'n openbare deelname proses. Die komitee moet dit oorweeg in die finalisering van die wetsontwerp, voordat dit aan die Nasionale Vergadering voorgelê word vir aanvaarding. Die komitee beoog om sy werk voor die einde van Maart 2020 klaar te maak.
