Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is op 25 Junie 2019 gepubliseer, met die internasionale belasting-tot-BBP-verhoudingsyfers gebaseer op data van die IMF. Na samesprekings met die Nasionale Tesourie is ooreengekom dat belasting-tot-BBP-syfers van die OESO 'n meer relevante prentjie gee wanneer Suid-Afrika met ander lande vergelyk word, aangesien die IMF-data nie sosiale sekerheidsbydraes of provinsiale belasting insluit nie. Die artikel is op 12 Julie 2019 hersien om dit te weerspieël.
Persoonlike inkomstebelasting het die afgelope paar jaar belangriker geword as 'n bron van staatsinkomste. Stats SA se jongste publikasie verskaf 'n uiteensetting van die jongste belastingdata van die nasionale regering.
Persoonlike inkomstebelasting het meer as 'n derde van die R1,22 triljoen se belasting bygedra wat die nasionale regering in die 2017/18 fiskale jaar ingevorder het, volgens Stats SA se Finansiële statistieke van nasionale regering rapporteer. Die tweede grootste bron van belasting was belasting op toegevoegde waarde (BTW), gevolg deur maatskappy inkomstebelasting (kliek op die prent om te vergroot).

Die belastingmengsel het 'n dekade gelede heeltemal anders gelyk. In 2008/09 het die nasionale regering omtrent dieselfde bedrag aan persoonlike inkomste en maatskappy-inkomstebelasting ingevorder: bydraes daardie jaar was onderskeidelik 31% en 30%.
Die wêreldwye finansiële krisis van 2008–2009, wat gelei het tot Suid-Afrika se eerste ekonomiese resessie sedert 1994, was veral moeilik vir besighede. Inkomste uit maatskappy-inkomstebelasting het in 2009/10 afgeneem en het sedertdien teen 'n baie stadiger koers gegroei as die bedrag wat van persoonlike inkomstebelasting ingevorder is.

Belastinginkomste het toegeneem ondanks swak ekonomiese groei. Die belasting-tot-BBP-verhouding, wat 'n gevoel van die belastinglas gee, toon belastinginkomste as 'n persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP). In 2017/18 was Suid-Afrika se belasting-tot-BBP-verhouding 25,9%.1 Die grafiek hieronder toon hoe die belasting-tot-BBP-verhouding sedert die laat negentigerjare gegroei het, met 'n hoogtepunt van 26,4% in 2007/08.2 hoe hoër die persentasie, hoe hoër is die bedrag belasting wat ingevorder word relatief tot die grootte van die ekonomie.

Hoe vergelyk Suid-Afrika met ander lande wat die belasting-tot-BBP-verhouding betref? Data is beskikbaar by beide die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO). Die IMF plaas Suid-Afrika in die top 10 lys van lande met die hoogste belasting-tot-BBP-verhouding.3
Dit is egter belangrik om daarop te let dat die IMF-data sosiale sekerheidsbydraes en provinsiale/staatsbelasting uitsluit. Die OESO-data, aan die ander kant, sluit wel hierdie twee items in. Aangesien sommige lande meer op sosiale sekerheidsbydraes en streeksbelasting staatmaak as Suid-Afrika, verskaf die OESO-data 'n meer relevante prentjie om vergelykings te tref.
In vergelyking met die 36 lidlande van die OESO, bevind Suid-Afrika hom aan die onderkant van die grafiek hieronder, met 'n kleiner belasting-tot-BBP-verhouding as die Verenigde Koninkryk, Griekeland en Italië.4

Is 'n hoë belasting-tot-BBP-verhouding 'n goeie of 'n slegte ding? Dit hang van elke land af. Vir 'n nasie wat 'n hoë verhouding het, maar waar belastingbetalers goeie waarde vir geld kry, is 'n hoë belastinglas dalk nie so nadelig nie. Lande soos Denemarke, Swede en Finland het hoë belasting-tot-BBP-verhoudings, maar hierdie nasies rapporteer die hoogste lewenstandaard.
'n Baie lae belasting-tot-BBP-verhouding kan problematies wees aangesien dit 'n teken kan wees van 'n ondoeltreffende belastingstelsel. ’n Regering sal sukkel om dienste te verskaf, infrastruktuur te bou of openbare goedere in stand te hou as hy versuim om belasting in te vorder gedurende tydperke van sterk ekonomiese groei. Indonesië het hom byvoorbeeld die afgelope jare daartoe verbind om sy belasting-tot-BBP-verhouding van 10% tot 15% te verhoog.
Die belasting-tot-BBP-verhouding alleen gee geen aanduiding van goeie bestuur, die doeltreffendheid van die belastingstelsel in die land, of die manier waarop belasting gebruik of versprei word nie.
