
Die miljardêr Johann Rupert het gesê sy hulp van R1 miljard sal beskikbaar wees vir alle klein ondernemings en hul werknemers, en nie net ondernemings in swart besit nie.
President Cyril Ramaphosa het Maandag 23 Maart 'n landwye inperking vir 21 dae aangekondig wat vanaf middernag op Donderdag 26 Maart sal begin.
Dit sal 'n verwoestende uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie en besighede hê, met sommige ekonome wat massiewe werkverliese voorspel.
Om die ekonomiese impak van die stilstand op die ekonomie te beperk, het Ramaphosa gesê die regering gaan geld bestee om lewens te red en om die ekonomie te ondersteun.
“Die regering verskaf saadkapitaal van R150 miljoen en die private sektor het reeds onderneem om hierdie fonds in die komende tydperk met finansiële bydraes te ondersteun,” het hy gesê.
Hy het ook die bydrae van die Rupert- en Oppenheimer-families van R1 miljard elk toegejuig om klein ondernemings en hul werknemers wat deur die koronaviruspandemie geraak is, by te staan.
Alle Suid-Afrikaners sal baat vind by Rupert se geld
Kort ná dié aankondiging het skermkiekies van ’n dokument op sosiale media begin sirkuleer wat daarop dui dat slegs ondernemings in swart besit vir finansiële bystand sal kwalifiseer.
Die dokument het gesê dat vir 'n KMMO om vir verligting te kwalifiseer, dit "51% in swart besit moet wees".
Die departement van kleinsake-ontwikkeling het beklemtoon dat dit 'n konsepdokument van 'n week gelede was en steeds onder hersiening is.
“Dit was nie bedoel om met die publiek gedeel te word nie,” het die departement op Twitter gesê.
Dit is dus nie duidelik of dieselfde kwalifiserende kriteria sal geld in die finale weergawe van die KMMO-hulpbefondsingsdokument nie.
Die regering se KMMO-webwerf waar klein en mediumgrootte ondernemings om finansiering kan aansoek doen, vra ook duidelik na die geslag en ras van hul aandeelhouers.
Dit vra ook aansoekers oor die geslags- en rasse-verdeling van hul werknemers, wat tipies met SEB-vereistes geassosieer word.
Toe Rupert gevra is oor die beweerde "slegs in swart besit" bystand was sy antwoord duidelik - "Ons bystand sal beskikbaar wees vir ALLE Suid-Afrikaanse besighede".
Daar moet kennis geneem word dat Rupert se skenking deel is van die Solidariteit-fonds, wat apart is van die regering se KMMO-hulpfonds.
Om vir toegang tot die KMMO-fonds te kwalifiseer, sal daar van ondernemings vereis word om op die KMMO Suid-Afrika-platform hier te registreer.
MyBroadband het die departement van kleinsake-ontwikkeling gekontak vir meer inligting oor die kwessie, en 'n woordvoerder het gesê meer besonderhede sal vandag tydens 'n inligtingsessie gedeel word.
