LIVE | Covid-19: Ramaphosa spreek die nasie toe oor ekonomiese en maatskaplike verligting

SANW het gemobiliseer in een van die grootste ontplooiings in die land se geskiedenis

President Cyril Ramaphosa het die Parlement in kennis gestel dat hy die ontplooiing van 'n bykomende 73 180 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gemagtig het om die polisie te help om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

In ’n brief aan die gesamentlike staande komitee oor verdediging – getwiet deur John Steenhuisen, DA-leier in die Nasionale Vergadering – sê Ramaphosa die ekstra dienslede sal tot 26 Junie 2020 ontplooi word en sal die 2 280 troepe wat reeds ontplooi is, aanvul.

Die ontplooiing sal die fiskus byna R5 miljard kos. Die ontplooiingsmag sal uit gereelde, reserwe- en hulpmagte bestaan. Steenhuisen sê die ontwikkeling is "baie kommerwekkend".

“Dit wil voorkom asof die 'harde inperking' langer afgedwing sal word, na volgende Vrydag se sperdatum. Ons kan nie die inperking vir ewig verleng nie. Ek bestee eerder die geld aan toetsing en opsporing om seker te maak ons ​​weet presies wat die omvang van die virus is. Dit (die ontplooiing) is nie 'n goeie teken nie.

Vrydag gaan 'n keerpunt wees wanneer mense hul verlaagde salarisse kry, debietorders begin afgaan ... ons hoop nie die soldate word opgeroep om die toesluit af te dwing nie.”

Helmoed-Romer Heitman, 'n onafhanklike verdedigingsontleder en korrespondent vir Jane's Defence Weekly, sê die ontplooiing sal onder die grootstes in die land se geskiedenis tel.

“Die grootste wat ek kan onthou was tydens die verkiesing in 1994, en dit was beslis groter as enigiets tydens die Bosoorlog. Dit blyk ook dat byna die hele SANW opgeroep word. Die totale aanvulling is iets soos 73 000, 74 000, so dit is alles. Die Reserwemag neem dit tot 85 000, 86 000 dienslede. So, dit is 'n groot ding.”

Cyril Xaba, voorsitter van die gesamentlike staande komitee van verdediging, het die egtheid van die brief bevestig.

– Pieter du Toit