Hof beslis ten gunste van Collins Khosa-familie en verklaar dat almal reg op lewe het

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag verklaar dat alle mense in SA geregtig is op 'n aantal regte wat nie opgeskort kan word nie, selfs tydens die Covid-19-ramptoestand.

Dit sluit in die reg op lewe, die reg om op geen manier gemartel te word nie en die reg om nie op 'n onmenslike en wrede manier behandel of gestraf te word nie.

Die hof het dié bevele gemaak in ’n aansoek wat die familie van Collins Khosa, die 41-jarige man wat gesterf het, gebring het nadat hy op 10 April na bewering deur soldate en metropolisie buite sy huis in Alexandra geslaan is.

Die familie het hierdie bevele gevra om te verseker dat geen ander lede van die publiek dieselfde lot as Khosa sou ly nie.

Khosa se lewensmaat, Nomsa Montsha, het in 'n beëdigde verklaring verklaar dat sy saam met Khosa en twee ander tuis was toe SANW-lede Khosa daarvan beskuldig het dat hy Covid-19-toesluitregulasies oortree het.

Montsha sê Khosa is buite die erf geneem, waar die soldate bier op sy kop en lyf gegooi het, hom teen die sementmuur geslaan en hom geskop, geklap en met die vuis geslaan het. Hy is 'n paar uur later dood.

Sy familie het op 2 Mei die hooggeregshof in Pretoria genader vir ’n aantal bevele, onder meer dat soldate en metropolisie wat toe in die omgewing van sy huis was, ontwapen en geskors word.

Hulle het ook gevra vir 'n bevel wat minister van verdediging Nosiviwe Mapisa-Nqakula en polisieminister Bheki Cele verplig om 'n gedragskode en operasionele prosedures te ontwikkel en te publiseer vir soldate en polisie wat tydens die ramptoestand ontplooi is.

En hulle het 'n bevel gesoek wat die staat verplig om 'n vry toeganklike meganisme vir burgerlikes daar te stel om bewerings van marteling of wrede, onmenslike of vernederende behandeling wat deur die polisie, weermag en metropolisie gepleeg is tydens die toestand van ramp, aan te meld.

Regter Hans Fabricius het Vrydag al dié bevele toegestaan.

Hy het ook beveel dat lede van die SANW, polisie en metropolisie-departemente deur die wet gebonde bly om slegs die minimum krag te gebruik wat redelik is om 'n amptelike plig uit te voer.

Fabricius het koste toegeken aan die drie mense wat die aansoek gebring het, insluitend Montsha.

Fabricius het in sy uitspraak gesê die dringende aansoek voor hom was van 'n ongewone aard, aangesien dit hom gevra het om die wet op die regte van alle mense te herhaal.

Fabricius het gesê alle partye voor die hof, insluitend hyself, is dit eens dat die Covid-19-inperking nodig is.

“Die publiek is egter daarop geregtig om met waardigheid en respek behandel te word, hetsy ryk of arm.”

Hy het gesê die publiek is geregtig op die reg op lewe en almal het die reg op vryheid en veiligheid van die persoon.

Fabricius het gesê die verklarende bevele wat deur die familie gevra word “kan help om wetlike en grondwetlike verpligtinge op te klaar op 'n wyse wat die beskerming en afdwinging van die grondwet en sy waardes bevorder”.