Opsomming

1.1 Hierdie riglyne is ingevolge artikel 79(1) van die
Mededingingswet No. 89 van 1998, soos gewysig (“die Wet”) wat bepaal dat die Mededingingskommissie (“Kommissie”) riglyne kan voorberei om sy benadering aan te dui oor enige aangeleentheid wat ingevolge die Wet binne sy jurisdiksie val. Hierdie riglyne is nie bindend vir die Kommissie, die Mededingingstribunaal of die Mededingingsappèlhof in die uitoefening van hul onderskeie diskresie, of hul interpretasie van die Wet nie.

1.2 Hierdie proses is veroorsaak deur veelvuldige klagtes wat die Kommissie ontvang het van verskeie onafhanklike rolspelers in die motor-namark sowel as lede van die publiek. Hierdie partye het kommer uitgespreek oor beweerde teenmededingende praktyke, soos prysgedrag in die motor-namark, en ooreenkomste wat onafhanklike spelers op alle vlakke van die motorwaardeketting uitsluit.

1.3 Hierdie riglyne verskaf praktiese leiding vir die motorbedryf, met die doel om die motor-namark te transformeer en mededinging aan te moedig deur groter deelname van klein besighede sowel as histories benadeelde groepe.