Informele Handelsplan kry groen lig
Handelaars van Delft en Lentegeur het baie om te vier nadat die Informele Handelsplan op Woensdag 31 Julie deur die volle raad goedgekeur is.
Die goedkeuring beteken informele handelaars en individuele ondernemings sal in staat wees om lewendige ekonomiese geleenthede te skep om die plaaslike ekonomie te ondersteun en terselfdertyd die Stad se ekonomiese en groeistrategieë te verbeter. Die plan laat toe dat informele handel goed bestuur word en skep 'n omgewing vir 'n verbeterde openbare ruimte en toegang tot basiese dienste.
Hierdie dienste sluit onder meer geriewe, elektrisiteit, water en sanitasie, skoonmaak en wetstoepassing in.
Die plan sluit wyke 13, 20, 24 en 106 in Delft in, en wyk 76 in Lentegeur, wat vir informele handelsbaaie gereserveer is.
Dit beteken dat handelsgebiede in die handelsplan deur middel van 'n informele handelspermit verhuur sal word.
’n Tarief van R89 per handelsplek per maand sal gehef word, terwyl handelsure van Maandag tot Sondag van 06:00 tot 20:00 sal strek.
“Dit is noodsaaklik dat die Stad die relevansie en bydrae van die informele handelsektor tot die plaaslike ekonomie erken en die lewenskragtigheid wat dit tot die sosiale omgewing van die gebied bring.
"Informele handel verskaf 'n inkomste aan diegene wat werkloos is en bied plaaslike inwoners die vryheid om óf plaaslike óf tradisionele formele sektor kleinhandel opsies te ondersteun," sê Mayco lid vir stedelike ontwikkeling, Grant Twigg.
“’n Informele Handelsplan maak sin omdat ons strategies spesifieke liggings vir informele handel moet afbaken deur plaaslike toestande en omstandighede in ag te neem, terwyl ons terselfdertyd ook informele handel in sekere plekke moet verbied weens praktiese oorwegings op die grond. ”

